Nasionale toneelspelkompetisie
Geskiedenis:
Die Hoërskool Bellville bied sedert 2002 ‘n nasionale toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders aan. Die afgelope paar jaar het die kompetisie bekend gestaan as die Stad Kaapstad Toneelspelkompetisie.
kykNET is vanaf 2013 die hoofborg en die kompetisie staan nou bekend as die Nasionale Toneelspelkompetisie.
Leerders vanaf graad 8 tot 12 neem individueel deel en nie as deel van ‘n dramaproduksie nie. Na uit-dunrondtes regoor die land word 60 kandidate gekies om in Mei aan die finale vier rondtes in die Kunstekaap Teater in Kaapstad deel te neem.
Die doel van die kompetisie is om aan individue die geleentheid te bied om hulle talente te meet aan dié van ander leerders van regoor die land en ook om hulle kreatiwiteit uit te lewe.
Behalwe die geldpryse word ‘n kandidaat deur “Binneland” se rolverdelingsregisseur gekies vir ‘n verskyning in die sepie “Binneland” op kykNET. Die SAOU (Wes-Kaap) gee ook ‘n beurs aan ‘n gr. 12-kandidaat wat drama gaan studeer met die oog op ‘n loopbaan in die onderwys.
Aktiwiteite gedurende die jaar:
Inskrywings sluit in Februarie en daarna begin die repetisieproses. Uitdunrondtes vind gewoonlik gedurende April plaas en rondte 1,2,3 en die finale rondte vind elke jaar in Mei by die Kunstekaap-teater plaas.
Ideale:
Die kompetisie is ‘n uitstekende blootstellings-geleentheid vir leerders met talent en passie vir toneelspel, veral indien hulle belangstel om
dit as ‘n loopbaan voort te sit. Daar is verskeie geleenthede om gedurende die kompetisie oudisies af te lê en die kans te staan om rolle los te slaan in toneelstukke, radiodramas en selfs televisie.
Hoe om deel te neem:
Leerders word ingeskryf met behulp van ‘n keuringsproses deur die hoof van die Drama-departement; mnr D Spijkers. Geen oudisies word gehou nie.
Kontakbesonderhede:
Mnr D Spijkers
dspijkers@pvallei.co.za
![]() |
![]() |
![]() |