Mr. Schenck |
Boodskap van die SkoolhoofDie Hoërskool Parel Vallei, geleë in die pragtige wynlande aan die voet van die Helderberg, is ‘n gemengde dubbel-mediumskool wat hom stewig gevestig het as ‘n leier in die Wes-Kaap. Ons is ‘n trots Suid-Afrikaanse skool met ‘n verskeidenheid gemeenskappe, kulture en gelowe wat deel uitmaak van ons samestelling.Ons neem ferm standpunt in teen die gebruik van dwelms, geweld, boeliery en alle vorme van diskriminasie.Ons streef na die bou van ‘n inklusiewe gemeenskap wat gelyke geleenthede aan almal kan bied en wat in die proses die waardes van gelykheid, verdraagsaamheid, openheid, aanspreeklikheid en die eerbiediging van ons gemeenskap uitleef. Die uitstekende akademiese rekord van die skool word bereik deur harde werk in die klaskamers waar onderwysmetodes die leerders uitdaag en hoër denkvlakvaardighede ontwikkel word. Die vaardigheid om onafhanklik te dink en te werk het voordele verder as die klaskamer en oudleerlinge van Parel Vallei kan spog met ‘n buitengewone suksessyfer by tersiêre opvoedkundige inrigtings. ‘n Sterk Christelike etos onderskryf die skool se filosofie van Liggaam, Gees en Verstand en kweek ‘n omgewing waar alle kulture en godsdienste gerespekteer word. Goeie maniere, respek en dissipline is die hoeksteen van ‘n morele samelewing en is ‘n integrale deel van die struktuur van Parel Vallei. ‘n Gebalanseerde opvoeding word verkry deur ‘n steeds uitbreidende sport-en kulturele program wat vaardighede aanleer en talente ontwikkel in ‘n area wat spanwerk, sportmanskap, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en nederigheid aanmoedig. ‘n Wye verskeidenheid aktiwiteite word aangebied en daar word van alle leerlinge verwag om betrokke te raak. Parel Vallei is ‘n goed toegeruste skool met rekenaars in elke klaskamer wat met moderne media-toerusting onderwysers en leerlinge die geleentheid bied om met die beste praktyke en bronne wêreldwyd te verbind. Moderne laboratoriums, kombuise en spreiligte op die Astrobaan voltooi die fasiliteit wat trots aan die voorpunt van opvoeding in ons land staan. Toelating to Parel Vallei geskied deur ‘n streng, maar regverdige beleid wat objektief deur ‘n groeiende aantal aansoekers sif. Ons visie “Uitnemendheid in ‘n veranderende wêreld” vereis dat ons vashou aan die goeie uit die verlede en voortgaan om aan te pas soos ons na die toekoms beweeg. Ons is trots op ons leerders en hulle is trotse Parel Valleiers! |