Die Beheerliggaam
Parel Vallei se nuutverkose Beheerliggaam
Baie geluk aan die nuutverkose Beheerliggaam! Mag julle die nodige wysheid en insig ontvang om die ouers, leerders en onderwysers van ons skool te lei na uitnemendheid in die veranderende wêreld waarin ons leef.
Weet dat ons julle ondersteun en trots is daarop dat julle dié groot taak met baie ywer sal aanpak.
Agter, van links: Richard McNally (nie-opvoeder), Darryl Spijkers (opvoeder), Paul Botha, Dawie Malan, Werner Kleinschmidt (tesourier), ds. Greg Blair (onder-voorsitter), Megan Mol (hoofdogter).
Voor: Lindie Strydom, Linda van der Merwe (opvoeder), David Schenck (skoolhoof), Johan van der Spuy (voorsitter), Nicola de Jager.
Afwesig: Dylan Janse van Rensburg (hoofseun).
Boodskap van ons voorsitter: Johan van der Spuy
"Uitnemendheid in’n veranderende wêreld"
In die tyd wat dit my geneem het om die opskrif hierbo te skryf, het die wêreld reeds 250 koppies koffie en 70 koppies tee kafgedraf (ja, ek het dit gegoogle!). Wat meer kommerwekkend is, is dat daar ook intussen omtrent 10 ton afval in die wêreld se oseane beland het en teen die tyd dat ek die skrywe voltooi het, sal dit waarskynlik gestyg het tot meer as 1000 ton. Die oplossing sal seker wees om vinniger te skryf!
Die feit van die saak is dat die wêreld besig is om te verander en teen ‘n vinnige spoed. Ons sien daagliks die toevoeging van nuwe tegnologie in ons lewens. Selfone het ‘n noodsaaklikheid geword en dit word as vanselfsprekend beskou dat elke huis internettoegang het. Waar laat dit ons as Parel Vallei se beheerliggaam? (Dit laat ons toe om ons maandelikse vergaderings aanlyn te hou – om maar een aspek uit te lig - alhoewel dit egter nie ons eerste keuse sal wees nie.)
Oor die afgelope 35 jaar het Parel Vallei (óns skool) reeds ‘n indrukwekkende reputasie opgebou. In die proses is daar ‘n elite groep onderwysers en administratiewe personeel wat nie net ons leerders nie, maar ook ons gemeenskap dien.
Hoe moet ‘n mens as skool nou voortgaan om die veranderende wêreld tegemoet te gaan? Gelukkig kon’n mens in 35 jaar nog nie te veel “bagasie” versamel nie so ons skool kan lig en vinnig reis.
Die uitdaging waarvoor ons te staan kom, is om dit wat ons voorgangers opgebou het te gebruik om in te bou in ons idee van Denke,Liggaam en Gees – nie net vir ons leerders nie, maar ook vir ons ouers en die gemeenskap waarin ons leef. Ons skool moet innoverende maniere vind om te verseker dat ons leerders nie agtergelaat word in hierdie vinnig veranderende wêreld nie. Nie al ons leerders gaan noodwendig onderskeidings behaal in die matriek-eindeksamen nie, maar wat daarvan as een van hulle die volgende Suid-Afrikaner kan wees wat in die Weense Staatsopera optree, of die Dakar-tydren wen of die eerste Parel Valleier op Mars is?
Die volgende drie jaar is maar ‘n vervlietende oomblik in die heelal, maar as beheerliggaam sal ons trots wees as ons eendag kan terugkyk en sê dat ons ‘n klein (al is dit ook ‘n miniskule een) bydrae kon lewer tot die opbou van ons skool, tot voordeel van ons leerders en om die gemeenskap op te bou.
So waar eindig die “Blue Thread”? Die antwoord is heel eenvoudig:
Dit eindig nooit nie!