Landloop
Parel Valleiers weet al te goed dat hulle sukses op die atlektiekbaan alreeds begin met hulle voorbereiding op die landloopbaan. Dis juis met deelname aan dié sport dat stamina gebou word.
Landloop word reeds van Parel Vallei se beginjare aangebied. Die leerders word konstant aangemoedig om hulle eie tye te verbeter met behulp van die regte beplanning en kundige advies. Ons doel is om dié sport in PV te neem op die pad van bemeestering deur: deelname aan nuwe wedlope en die Bolandliga, wat al ‘n jaarlikse instelling geword het.
PV se pragtige ligging aan die voet van die Helderberg bied ook die ideale oefenterrein aan leerders én hulle word goed voorberei op die verskeie uitdagings wat wedlope aan hulle mag bied. Die span seuns en dogters sweet saam as hulle Spookheuwel en die opdraandes van die Helderberg moet aandurf tydens oefensessies, maar sweef ook weer hoog saam as hulle goeie tye hardloop en beloon word vir hulle insette.
AKTIWITEITE WAARAAN LANDLOOP-ATLETE GEDURENDE DIE JAAR KAN DEELNEEM EN UITSIEN:
- Weeklikse oefensessies by die skool teen ons steil en bekende bulte.
- Weeklikse 4 km-tydtoets aangebied deur die Strand Atletiekklub.
- Verskeie Bolandligabyeenkomste.
- Padwedlope (soos die SAD 10 km en Leapfrog van 10 km).
- “Parkruns”.
- “Trailruns” (Op die Lourensford-wynlandgoed met ‘n 5 km- of 10 km- opsie).
In die 3de kwartaal pak PV se drawwers ook die Wildrunner trial series aan wat bestaan uit 4 wedlope, sowel as die 5/15 km Spookheuwel-padwedloop wat gewoonlik ‘n hoogtepunt is.
IDEALE
Ons streef daarna om landloop by PV te laat groei deur so veel as moontlik atlete by landloop betrokke te kry, sowel as om ‘n fiksheidskultuur in ons skool te skep. Mag meer lede van ons PV-span ook binnekort in die Bolandspan wees.
Trek vandag nog jou tekkies aan en kontak meneer Soekoe om deel te word van dié span.
nicsoekoe1@gmail.com of sport@pvallei.co.za
*Raadpleeg asb. ons skool se Communicator vir opgedateerde en gereelde inligting i.v.m uitslae en datums.